Karoo-mense laat my dans. As jy nog nooit ‘n Karoo-inwoner se omgee beleef het nie, dan mis jy uit. Big time!
Gister was ‘n stupid dag. Ons 2 honde het ‘n gat in die heining ontdek en pad gevat. Vir vyf ure het ons hierdie klein Karoo-dorpie deurgery. Straat op en straat af. Op die veldpaaie uit. “Zim! Lya!” Dit was koud. Baie koud, maar ek hou die vensters oop en roep.
As ek honde hoor blaf in die dorp, spring ek in die voertuig… dalk is dit ons honde wat by ander honde kuier
Soms was ek in die huis, en soek hulp op die whatsapp groepe. Mense op my groep het op ander groepe gepost. Ek het op die Middelburg faceboek groepe gepost.
Whatsapp’s kom in:
- Tannie B is by die 80 jaar. “Sy ry in haar karretjie rond en help soek.”
- “Ek is in my 4×4 en het my verkyker. Ek ry om die koppies. Ek soek.”
- “Ons sal hulle kry. Dirk bied beloning aan vir elke mens wat hy teëkom. Hou moed.”
Almal bid. Almal vra en bemoedig, want almal ken ons Anthoon-kind wat gedurig te sien is met ons of ander mense se honde. Dis sy besigheid om ander honde te stap, onthou. Soos my man sê: “Anthoon, sonder sy honde, is net halwe mens.”

Ek druk ‘n beloning-bladsy uit. Die 2 manne gaan sit dit op in die dorp. Sal een jafel vir Anthoon sê: “Nee, man, daai honde is al lankal geslag.”
Anthoon staan met groot oë langs my, elke keer wat hy in die huis kom. “Ek gaan nie vanaand kan slaap nie, Ma.” Ek het ‘n naar kol op my maag. Hoe moet mense voel as hul kinders ontvoer is?
Waar is ons honde? Wie het hulle opgelaai? Is hulle vasgebind met drade om hul nekke. Of dalk rerig geslag? Ons het liefie-honde. Hulle sal na enige iemand toe gaan.
Dit raak laat. Nou moet die manne posters gaan opsit by die shebeens ook.
Vyf uur stop ‘n bakkie. Deur die venster sien ek twee bekende hondegesiggies. Stouter klein duiwels het die veld in gevaar, en by iemand se perdestalle buite die dorp uitgekom. Die verligting was groot. Baie groot.



Vanoggend by die kerk sê een vriendin: “Dit was ‘n eerste. Ek het vir die predikant se honde gebid.”
Verstaan jy waarom ek dans oor Karoo-mense. Dit is omgee-mense.
